Archive for June, 2008

Previous page
admin

Tuinmaak-wenke – Junie

Herfsblare in visdammetjies:

Herfsblare wat in visdammetjies val moet uitgehark word. Indien hierdie blare in die water afbreek sal dit skadelik vir die visse wees.

Snoei:

Baie tuiniers begin reeds hierdie tyd van die winter met snoei. Ons ondervinding is egter dat snoei nou uitloop van nuwe lote sal veroorsaak met onnodige blootstelling van hierdie nuwe groei aan die koue wat nog kom. Wag dus met snoei in gematigde gebiede tot einde Julie en in kouer gebiede tot begin Augustus.

Los verder liewers al die lelike en dooie takke/blare tot later in Julie/Augustus – hierdie takke/blare dien nou as ‘n ‘n kombers teen die strawwe winterkoue wat nog voorlê.

Wenk: Snoei terwyl plante dormant is, maar wag tot die ergste winterkoue verby is. In die koue gebiede is dit eers Augustus en in die meer gematigde gebiede einde Julie.

Aanplant van bome en struike:

Ons hoor baie dat hierdie tyd van die jaar as tyd vir oorplant van bome/struike aanbeveel word. Ons beveel egter aan dat met oorplant/aanplantings van bome en struike tot Augustus gewag moet word. Hierdie stelling geld vir plante in sakke en ook vir plante wat uit die grond gehaal en oorgeplant word.

Doen gerus ‘n proef en plant nou ‘n boom oor, en ook een later in Augustus. Die kans is goed dat die een wat jy nou oorplant gaan vrek!!!

Wenk: Al is jy lus vir tuinmaak, moet nie nou struike of bome oorplant nie.

Besproeiing:

  • Maak seker dat die tuin nie te veel water kry nie.
  • Benat in die Hoëveld plante ongeveer een keer elke tweede of derde week. Die uitsondering is groeiende bolplante wat meer gereëld water moet kry.
  • In meer gematigde gebiede kan die tuin een keer per week benat word.
  • Besproeiing moet soggens plaasvind sodat die plante saans droog is.

Wenk: Gee liewers nou te min as te veel water. In subtropiese gebiede kan besproeiing egter meer gereëld plaasvind.

Herstel van toerusting:

Junie is ‘n goeie tyd om snoeiskêre skerp te maak, gras/kant- snyers te diens en alle ander toerusting heel te maak.

Beplanning:

Die lekkerste werk vir Junie is om veranderinge aan jou tuin te beplan. Hier word gedink aan die uitleg van nuwe beddings, lê van paadjies ens. Indien jy graag jou tuin gedurende die winter netjies wil hou, is dit egter die beste om die uitvoer van jou beplanning terug te hou tot net na die winter.

admin

Tuinrose – Wenke vir Junie

Hierdie tyd van die jaar benodig jou tuinrose die minimum aandag. Ten einde laat in Julie of begin Augustus gesnoei te word, moet die plante nou na ‘n winterrus oorgaan.

Forseer die plante nou om oor te gaan in winterrus. Dit kan gedoen word deur die minimum water te gee en al die blomknoppe te verwyder.

Doen asseblief nou geen onnodige snoeiwerk nie.

Vir alle inligting wat jy benodig aangaande tuinrose kan ons Roos-CD (Florcom – Garden Roses) bestel word. Op hierdie CD is alle inligting aangaande identifikasie van siektes en voedingtekorte/oormate, foto’s en beskrywings van die belangrikste kultivars, bemestingprogramme, kweektegnieke, na-oesbehandeling en programme vir die beheer van plae en siektes. Dit alles vir slegs R99. Kontak ons indien jy die CD wil bestel of sien die voorskou by www.florcom-gardenroses.co.za

Die outeur van die CD is reeds vir die afgelope 20 jaar betrokke as konsultant by die meeste groot rooskwekerye in Suid Afrika – met hierdie CD word van sy kennis ook na die algemene publiek oorgedra.

Die kremetart word in die warm noordelike gedeeltes van Suid Afrika aangetref. Die kremetart bereik hoogtes van tot 20 meter en het ‘n enorme stam met ‘n omtrek van tot 10 meter. Die spreiende takke wat in die winter soos wortels lyk is kenmerkend.

Die kremetart is baie gewild onder bonsai-liefhebbers. Die kremetart is dormant in die winter en kan daarom gedurende die winter binneshuis gehou word. Hierdie plante kan dus in feitlik enige gedeelte van die land as bonsai gekweek word.

Johan en Berrie Ras van Warmbad het die kremetart op die fotos vanaf saad gekweek. Hulle het die saad in 1968 ontkiem. Foto A is in 1979 (11 jaar na ontkieming) en foto B in 1993 (25 jaar na ontkieming) geneem. Foto nommer C is gedurende Mei 2008 (40 jaar na ontkieming) geneem.

Johan en Berrie gee die volgende wenke aan voornemende bonsaikwekers wat kremetarte wil kweek:

  1. Vars sade van kremetarte ontkiem moeilik. Gebruik dus saad van ten minste een jaar oud.
  2. Plant jou toekomstige bonsai in ‘n groot houer (gewone houer vir potplante).
  3. ‘Top’ nuwe takkies op ongeveer die derde blaar sodat baie en kort takke gevorm word.
  4. Sodra herfskleure begin wys (ongeveer April), moet alle watertoediening gestaak word. Kremetarte is gedurende die winter in ‘n rustoestand en mag geen water kry nie. Gedurende hierdie tydperk moet die plante teen koue beskerm word. Aangesien hulle in rus is, kan hulle soos ornamente in die huis hanteer word.
  5. Wanneer die boom begin bot (ongeveer September) kan hy weer water kry. Maak die water geleidelik meer.

Wanneer die boompie soos ‘n bonsai begin lyk, kan hy in ‘n bonsai-houer oorgeplant word. Doen dit gedurende Augustus. Wanneer die boompie oorgeplant word, moet die wortels teruggesny word – smeer die snyvlakke van die teruggesnyde wortels met blomswael.

11 jaar na ontkieming (1979)

25 jaar na ontkieming (1993)

40 jaar na ontkieming (Mei 2008)

Vir meer inligting kan Johan en Berrie geskakel word by 082 545 8683.

Hierdie inheemse plante is vinniggroeiende immergroen rankplante wat as grondbedekkers, op beddingrande, as rankers of in hangmandjies geplant kan word.

Plant die Hen-en-kuikens buitenshuis of binneshuis in die skadu, son of semi-skadu. Die Hen-en-kuikens is redelik kouebestand.

Sommige literatuur beskryf die Hen-en-kuikens as geharde rypbestande plante. Ons ondervinding is egter dat sommige variteite rypgevoelig is en in koue gebiede liefs onder bome aangeplant moet word.

Klein, onbeduidende wit blomme word op blomare gedra. Die blomare vorm blaargroepies aan hulle punte (kuikens) en vorm wortels waar dit aan die grond raak. Die kuikens kan van die res van die plant afgehaal word en groei maklik indien oorgeplant.

Indien jy ‘n geharde vinniggroeiende inheemse plant soek om kaal kolle in die tuin vinnig te vul, is die Hen-en-kuiken die ideale plant.

Previous page

Bladsye besigtig: 736302