Die Ficus Burt-davyi kom aan die tropiese kusgedeeltes van Suidelike Afrika voor.
Die Ficus Burt-davyi benodig baie lig en goeie deurlugting, maar kan in skadu groei en is daarom geskik om as ‘n binneshuise bonsai te kweek.
Hierdie boompies kan maklik vanuit stiggies gekweek word.
Groei is vinnig. Die twee boompies in die fotos is slegs 6 jaar oud en vertoon reeds ‘n besondere bonsai-voorkoms.

Die boompie in die onderstaande foto se treffendheid is verkry deur die hoofstam te forseer om horisontaal met ‘n u-draai te groei.

‘n Wond aan die stam van die onderstaande boompie was verantwoordelik vir die ontstaan van die unieke wortels waarop die boonste kroon van die boom rus.
Inligting en fotos verskaf deur Johan en Berrie Ras. Hul kwekery in Warmbad bestaan al meer as 40 jaar en bevat ‘n groot verskeidenheid unieke boompies (Johan en Berrie kan geskakel word by 082 545 8683).
Gewone naam:
Flambojant.
Die genusnaam (Delonix) is afgelei van die Griekse woorde delos en onyx wat onderskeidelik ‘opvallend’ en ‘klou’ beteken. ‘Opvallend’ verwys na die treffende voorkoms van die boom gedurende blomtyd en ‘klou’ verwys na die vorm van die kroonblare.
Tuinplasing:
Maak seker dat daar genoeg spasie vir die Flambojant se wye kroon van 10 tot 20 meter is. Die Flambojant vertoon besonder mooi waar dit in lanings op sypaadjies aangeplant is.
Groeibeskrywing:

Bladwisselende vinnig groeiende boom met rooi vlammende skarlakenrooi blomme wat treffend laat in die lente vertoon. Tydens blomvorming is die Flambojant een van die aanskoulikste bome. Blare is acacia-agtig en peule word tot 60cm lank.
Blomme:

Skouspelagtige blomme met 5 klouvormige kroonblare. Blomme is ongeveer 7cm in deursnit. Blomblare en stuifmeeldrade is vlamrooi.
Hoogte en wydte:
10 x 20m
Gehardheid:
Nie rypbestand nie.
Voortplanting:
Saad ontkiem maklik indien dit vooraf in warm water geweek word. Hardehout-stiggies kan van sytakkies gemaak word .
Voeding en besproeiing:
Plant in diep, vrugbare grond wat maklik dreineer. Gee genoeg water.
Land van oorsprong:
Madagaskar