Gewone naam:
Varkore, Aronskelk
Blomme en groeibeskrywing:








Die Aronskelk is ‘n bolplant met ‘n kenmerkende bloeiskede en kom wydverspreid deur Suid Afrika in valeie en langs waterstrome voor. Die algemene kleur is wit en geel, maar verskeie ander kleure is reeds gekweek. Die groot groen blare het dikwels wit kolle of vlekke. Die blomme word ook as snyblomme verbou. Die blomseisoen is meestal gedurende die lente en somer.
Die blare gaan elke jaar dood. Bolle kan hierna gelig en gestoor word. Berg die bolle by ‘n temperatuur van ongeveer 12 grade Celcius en in ‘n dun lagie saagsels ten einde uitdroging te voorkom.
Vir goeie blomvorming moet die bolle voor aanplanting vir 30 sekondes in 100 dele per miljoen gibberelliensuur gedoop word.
Tuinplasing:
Plant in volle son of gedeeltelike skadu. Vertoon mooi langs visdamme en in watertuine. Kan direk in die grond of in blombakke geplant word. Plant bolle ongeveer 5cm onder die grondoppervlak.
Gehardheid:
Redelik kouebestand.
Voeding en besproeiing:
Varkore verkies ‘n klam omgewing, maar versuipte toestande moet voorkom word. Wees versigtig om nie te veel stikstof toe te dien nie – te veel stikstof sal veroorsaak dat die blare welig groei maar blomvorming sal swak wees. Gekleurde soorte verkies ‘n goed gedreineerde rooi kleileem, ander soorte groei in feitlik enige grondtipe. Besproei altyd vroeg in die oggend.
Siektes:
Erwinia (bakteriese vrot) is die mees algemene probleem. Hierdie siekte veroorsaak dat plante doodgaan en kan maklik deur ‘n kenmerkende slegte reuk geïdentifiseer word. Erwinia kan in ‘n mate voorkom word deur 1. besproeiing tydens die warm gedeeltes van die dag te vermy en 2. hoë grondtemperature te voorkom deur die grondoppervlak rondom die plante met ‘n deklaag toe te maak.
Voortplanting:
Groei maklik deur verdeling van die bolle.
Land van oorsprong:

Botaniese naam
Aponogeton distachyos (Familie: Aponogetonaceae)
Gewone naam
Waterblommetjie. Cape pondweed.
Groeibeskrywing

Vinnig groeiende meerjarige plant met groen blare en wit blomme wat op die water dryf.
Blomme
Blomme is opvallend, wit, geurig en verskaf gedurende die winter en lente (Julie tot Oktober) kleur aan watertuine. Die waterblom is bekend as ‘n bestanddeel in tradisionele Kaapse bredies.

Tuinplasing
Ideale vir visdamme en watertuine . Waterblomme verkies vol son, maar aard ook in gebroke skadu. Plant die waterblommetjie in potte en plaas 20 tot 30cm onder die wateroppervlak.
Land van oorsprong
Gehardheid
Kouebestand. Kan in die volle son geplant word.
Voortplanting
Plant maklik voort deur middel van rhizosome wat in die somer of herfs verdeel moet word.

Roosplante is uiters gevoeilg vir sistemiese onkruiddoders. Selfs indien hierdie middels slegs in die nabye omgewing en nie direk op die plante gespuit word, kan ernstige groeiremming en groeiafwykings voorkom. Enkele druppels sistemiese onkruiddoders wat deur die wind na roosplante gedra word kan permanente beskadiging veroorsaak. Indien sistemiese onkruiddoders direk op roosplante gespuit word, sal die plante mettertyd vergeel en doodgaan. Indien nabygeleë gedeeltes van die tuin of kweekhuis gespuit word en druppels deur die lug sweef en op die rose se blare land sal die plante waarskynlik lewendig bly, maar nuwe blaartjies en blomme kan klein en misvorm wees. Dit mag enkele jare duur voor hierdie simptome verdwyn en die aanbeveling is gewoonlik om bekadigde plante uit te haal en nuwes te plant.
Simptome van onkruiddoderskade:
A. Simptome wanneer gif direk op die plante gespuit is:
- Die roosblare sal binne twee weke begin vergeel, verdroog en daarna sal die hele plant sterf.
B. Simptome indien slegs druppels op die plante gekom:
Afhangende van die tipe gif kan verskeie tipes simptome ontstaan:
- Nuwe roosblare kan geel, klein en misvorm wees.
- Nuwe blare kan donkergroen wees, smal en opkrul.
- Blomme kan klein en misvorm wees.


Maatreëls:
Die simptome kan baie jare op die plante bly. Indien jy seker is dat gif wel die oorsaak van die simptoom is, sal dit beter wees om die plante te vervang.
Ander faktore wat soortgelyke simptome kan veroorsaak:
- Indien sekere sistemiese middels vir die beheer van plae en siektes te gereëld en teen te hoë konsentrasies gespuit word, kan soortgelyke simptome ontstaan. Wanneer toediening van hierdie giwwe gestaak of verminder word, sal die simptome egter verdwyn. Simptome wat deur sistemiese onkruiddoders veroorsaak is, sal daarenteen ‘n aantal jare neem om te verminder of te verdwyn.
- ‘n Tekort aan sink (Zn) kan soortgelyke simptome op blare veroorsaak. Die simptome sal egter verminder indien Zn as ‘n bladvoeding toegedien word.
- Wees versigtig om nie misvormde blomme wat deur ‘n tekort aan boor veroorsaak is, met onkruiddoderskade te verwar nie.
- Downey mildew veroorsaak ook by sommige variteite misvormde blomme. Na beheer van die siekte sal die nuwe groei egter normaal wees.
Waarskuwing
- Moet nie met sistemiese onkruiddoders naby roosplante spuit nie.
- Rooskwekers mag nie sistemiese onkruiddoders op hulle kwekerye toelaat nie en mag dit nie binne of buite hulle kweekhuise gebruik nie.