Archive for May, 2010

marna

Clivia nobilis

Clivia nobilis
clip_image002[6]Familie :Amaryllidaceae
Gewone naam : Boslelie

Groeibeskrywing:

Hierdie is die eerste clivia wat deur plantkundiges beskryf is. (Die plantkundige J Lindley het in 1828 ‘n plant beskryf wat deur ‘n onderwyser William Burchell naby Grahamstad ontdek is)

Blare is 300 tot 600mm lank met ovaal punte. Blaarbreedte is tussen 25 en 50mm.

Blomme is kenmerkende hangende klokkies. Anders as in die geval van die meer bekende Clivia minuate is blomtyd vanaf laat herfs (Clivia miniata blom gedurende die lente).

Groeitempo is aansienlik stadiger as in die geval van die ander clivia spesies. Vandat saad ontkiem tot die plantjie blom kan tot 6 jaar duur.

Tuinplasing

Clivias moet op beskutte plekke in die skadu geplant word.

Land van oorsprong

clip_image004[6]Vanaf die Sondagsrivier se mond in die Oos Kaap tot in die binneland by Grahamstad.

Encephalartos arenarius

clip_image002Fotos in hierdie artikel is goedgunstelik verskaf deur Johan en Petro Henning van Ellisras. Vir saailinge van verskeie broodboomsoorte kan hulle gekontak word by 082 8736 051

Die naam arenarius beteken: “groei in sanderige grond

Volksname

Alexandria cycad, Kwa Qaba cycad.

Groeibeskrywing

Encephalartos arenarius is ‘n medium grootte broodboom met dikwels meer as een stam met die hoofstam wat soms plat op die grond lê. Suiers kom dikwels voor. Twee soorte kom voor; naamlik die meer algemene groen en die baie skaars blou soort. Vroulike keels is 500 – 600 x 250 – 300mm en liggroen van kleur. Manlike keels is 300 – 500 x 80 – 150mm. Plante dra slegs een keël per keer. Keëls is gedurende April of Mei ryp. Ryp saad is rooi van kleur. Blare is 1 tot 1,5 meter lank.

Voortplanting

Berg bestuifde vroulike sade vir een jaar. Saai sade (verkieslik in effens verhitte sand) gedurende die lente. Ontkieming behoort binne drie tot vier weke plaas te vind. Suiers kan ook gebruik word.

Tuinplasing

Encephalartos arenarius moet in sanderige grond geplant word. Plant in gedeeltelike skadu.

Gehardheid

Encephalartos arenarius is nie kouebestand nie.

clip_image004Verspreiding

Encephalartos arenarius groei in sanderige duinegrond van die Ooskaap, in die Alexander gebied. Aangesien die meeste van hierdie duinwoude uitgewis is, is Encephalartos arenarius baie skaars en as ‘n bedreigde spesie verklaar. Die reënval is 725mm to 875mm per jaar en deur die jaar verspreid. Geen ryp kom voor nie en die somers is warm en droog.

marna

Anthurium andraeanum

Plant van die week

Botaniese naam

Anthurium andraeanum 

Gewone naam

Flaminklelie

clip_image002Groeibeskrywing

Die genus Anthurium is ‘n groot genus met meer as 600 soorte meerjarige, immergroen plante wat om hul ornamentele blare en aantreklike bloeiskedes met bloeikolwe gekweek word. Anthurium andraeanum (Flaminklelie) is die bekendste soort met opvallende skarlakenrooi of wit bloeiskedes. Die bloeiskedes word in die lente gedra. (Die bloeiskede is die opvallende skutblaaragtige wit of gekleurde struktuur wat op die punt van die bloeisteel gedra word en die bloeikolf gedeeltelik omring; die bloeikolf is die vlesige aar wat bo die bloeiskede uitsteek. Klein blommetjies word aan die bloeikolf gedra).

 Plasing en versorging

Die Flaminklelie is ‘n gewilde kweekhuisplant waar dit as potplant of as snyblom gekweek word. Die bloeiskedes se vaasleeftyd is besonder clip_image004lank (tot 6 weke).

Plante vertoon besonder mooi in houers op beskutte plekke op patios of binneshuis.

Die ideale temperature is tussen 16 en 22 grade Celcius en onthou dat die Flaminklelie minder lig as die meeste ander soorte huisplante benodig. Blare kan gereeld met ‘n klam lappie afgevee word.

Anthuriums benodig ‘n goed gedreineerde groeimedium met baie organiese materiaal. Gee elke tweede week ‘n klein hoeveelheid opgeloste voedingstowwe.

Gespesialiseerde tegnieke word gebruik om Anthuriums in kweekhuise te verbou. Vir meer inligting kan die ‘Florcom Horticultural Services Website – www.florcom.co.za’ geraadpleeg word.

Hoogte

Lengte van die bloeistele variëer van kort tot meer as 30cm.

Land van oorsprong

Tropiese Amerika.

Gehardheid

Nie kouebestand nie en benodig gefilterde sonlig.

Voortplanting

Plant voort deur middel van stiggies of saad. Die maklikste is om plante by kwekerye te koop.

clip_image006Waarskuwing

Die sap van die Flaminklelie is giftig en kan velirritasie veroorsaak. Alle dele van die plant is giftig – indien geëet sal erge maagongesteldheid voorkom.

Bladsye besigtig: 668992