May 8th, 2010
Anthurium andraeanum
Plant van die week
Botaniese naam
Anthurium andraeanum
Gewone naam
Flaminklelie
Die genus Anthurium is ‘n groot genus met meer as 600 soorte meerjarige, immergroen plante wat om hul ornamentele blare en aantreklike bloeiskedes met bloeikolwe gekweek word. Anthurium andraeanum (Flaminklelie) is die bekendste soort met opvallende skarlakenrooi of wit bloeiskedes. Die bloeiskedes word in die lente gedra. (Die bloeiskede is die opvallende skutblaaragtige wit of gekleurde struktuur wat op die punt van die bloeisteel gedra word en die bloeikolf gedeeltelik omring; die bloeikolf is die vlesige aar wat bo die bloeiskede uitsteek. Klein blommetjies word aan die bloeikolf gedra).
Plasing en versorging
Die Flaminklelie is ‘n gewilde kweekhuisplant waar dit as potplant of as snyblom gekweek word. Die bloeiskedes se vaasleeftyd is besonder
lank (tot 6 weke).
Plante vertoon besonder mooi in houers op beskutte plekke op patios of binneshuis.
Die ideale temperature is tussen 16 en 22 grade Celcius en onthou dat die Flaminklelie minder lig as die meeste ander soorte huisplante benodig. Blare kan gereeld met ‘n klam lappie afgevee word.
Anthuriums benodig ‘n goed gedreineerde groeimedium met baie organiese materiaal. Gee elke tweede week ‘n klein hoeveelheid opgeloste voedingstowwe.
Gespesialiseerde tegnieke word gebruik om Anthuriums in kweekhuise te verbou. Vir meer inligting kan die ‘Florcom Horticultural Services Website – www.florcom.co.za’ geraadpleeg word.
Hoogte
Lengte van die bloeistele variëer van kort tot meer as 30cm.
Land van oorsprong
Tropiese Amerika.
Gehardheid
Nie kouebestand nie en benodig gefilterde sonlig.
Voortplanting
Plant voort deur middel van stiggies of saad. Die maklikste is om plante by kwekerye te koop.
Die sap van die Flaminklelie is giftig en kan velirritasie veroorsaak. Alle dele van die plant is giftig – indien geëet sal erge maagongesteldheid voorkom.


