Bemesting van clivias

clip_image002

Indien clivias nie die regte voedingstowwe kry nie is die blare lig van kleur, blomme se kleur is dikwels bleek, plante is vatbaar vir siektes en die groei is oor die algemeen swak. Die volgende kan as riglyn gebruik word met die uitwerk van ‘n voedingprogram vir clivias.

(Foto: Florcomgardens)

1. Plante benodig tydens vegetatiewe groeistadiums meer stikstof en minder kalium as gedurende die generatiewe groeistadia.

Die vegetatiewe groeistadium is wanneer blare groei en die generatiewe groeistadium is wanneer die blomme ontwikkel. Clivias blom meestal vroeg lente, die generatiewe groeistadium is dus laat winter en vroeg lente terwyl die vegetatiewe groeistadium gedurende die somer is. Gedurende laat winter en vroeg lente moet dus meer kalium en gedurende die somer meer stikstof gegee word.

2. Byvoeging van kalium tot die voedingprogram help om plante meer kouebestand te maak. Meer kalium is dus gedurende die winter nodig.

3. Faktore wat opname en transpirasie (vervoer) van water vertraag, sal ook opname van kalsium en boor deur die wortels vertraag. Tipiese faktore wat transpirasie vertraag is koue en lae ligintensiteit gedurende die winter. Gedurende die winter sal kalsium en boor dus nie voldoende deur die wortels opgeneem word nie en moet hierdie voedingstowwe as bladvoeding toegedien word.

4. Magnesium word swak opgeneem deur die wortels wanneer die grond koud is (bv tydens die winter). Bladvoeding met magnesium is dan nodig.

Met bogenoemde inligting in ag geneem het ons die volgende voedingprograam vir clivias bereken:

a. Handtoediening: Die meeste tuiniers wat clivias in die grond plant het nie die toerusting om deur die water kunsmis te gee nie en strooi daarom kunsmis met die hand tussen die plante. Ons stel die volgende handbemestingprogram voor:

  • Strooi net na blom en dan die res van die somer elke tweede maand 10 tot 15 gram korrelkunsmis per vierkante meter. Gebruik ‘n kunsmis wat meer stikstof bevat, bv 3:2:1 (Onthou die eerste syfer in die kunsmis se naam dui die hoeveelheid stikstof aan, die tweede die hoeveelheid fosfaat en die derde die hoeveelheid kalium; die kunsmis 3:2:1 bevat dus 3 dele stikstof, twee dele fosfaat en 1 deel kalium). Skud die kunsmis wat op die blare val af (gebruik sommer ‘n grasbesem) en gee dadelik na die kunsmistoediening water.
  • Strooi vroeg in die winter en weer einde Julie per vierkante meter tien tot 15 gram kunsmis wat meer kalium bevat, bv 2:3:4.
  • Gee vroeg in die winter bladvoeding met ‘n produk wat kalsium, boor en magnesium bevat (bv Calmabon).
  • Gee elke vierde maand (maw drie keer per jaar) bladvoeding met ‘n gebalanseerde produk (bv Multifeed).

b. Fertigation: Kwekers wat clivias in potte plant en deur die water en nie met die hand kunsmis gee, kan die volgende voedingoplossing aanmaak en een of twee keer per maand saam met die besproeiingswater toedien:

Somer

(Vegetatiewe groei)

Per een liter besproeiingswater

Winter

(voor blomvorming)

Per een liter besproeiingswater

0.5g CaNO3

0,3 CaNO3

O,3g KNO3

0,5g KNO3

0,2g MgSO4

0,1g MgSO4

0,1g MAP

0,1g MKP

  • Gee daarby vroeg in die winter bladvoeding met ‘n produk wat kalsium, boor en magnesium bevat (bv Calmabon).
  • Gee ook elke vierde maand (maw drie keer per jaar) bladvoeding met ‘n gebalanseerde produk (bv Multifeed).

clip_image004Onthou dat hierdie ‘n veralgemeende program is en dat dit verkieslik volgens die kwaliteit van jou besproeiingswater en voedingstatus van die grond of groeimedium aangepas moet word.