Archive for the 'Broodbome' Category

Previous page

Botaniese naam

Encephalartos ferox

Gewone naam

Tongaland Broodboom.

Groeibeskrywing

Encephalartos ferox word gekenmerk deur donkergroen leeragtige blare met stekelrige pinnae. Blare is een tot twee meter lank.

clip_image002

Die stam groei gewoonlik nie hoog bo die grond nie en vertak selde.

Een tot 10 keëls kan per plant voorkom. Manlike keëls is 40 tot 50 cm lank met ‘n deursnit van 7 tot 10 cm. Vroulike keëls is 25 tot 50 cm lank met ‘n deursnit van 20 tot 40 cm. Elke vroulike keël dra ongeveer 500 helderrooi sade. Onderstaande foto is ‘n voorbeeld van ‘n plant met vroulike keëls.

clip_image004

In warm gebiede staan Encephalartos ferox bekend as een van die vinnigste groeiende broodbome – keëlvorming vind binne 12 jaar na ontkieming plaas.

Tuinplasing

Encephalartos ferox moet in goed gedreineerde grond in skadu geplant word. ‘n Tropiese effek word verkry waar plante gegroepeer word.

Gehardheid

Encephalartos ferox is nie rypbestand nie.

Verspreiding

Encephalartos ferox kom aan die noordelike kus van Kwazulu Natal en ook in Mosambiek voor.

Voortplanting

Plant maklik voort deur middel van saad.

Fotos in hierdie artikel is goedgunstelik verskaf deur Johan en Petro Henning van Ellisras. Vir saailinge van Encephalartos transvenosus en verskeie ander broodboomsoorte kan hulle gekontak word by 082 8736 051.

Die Modjadji is naas Encephalartos woodii die vinnigste groeier van al die Suid – Afrikaanse broodboomsoorte. Onder ideale toestand kan keëls binne elf jaar na ontkieming vorm en stamme kan tot 6 cm per jaar groei. Stamme word tot 14 m lank en sytakke en suiers vorm maklik.

Die Modjadji is bestand teen ligte ryp en kan in gedeeltelike skadu of in die son geplant word.

Modjadji 1

 Tot 5 keëls word gelyktydig gevorm en die vroulike keëls bly vir tot ‘n jaar aan die plant sit voor dit disintegreer. Die vroulike keëls is swaar en weeg tot 40 kg. Loofblaartjies is geneig om op die bopunt van vroulike keels te vorm (sien bygaande foto).

Modjadji 2

 Bestuiwing vind plaas vanaf Junie tot September. Op die onderste foto word gewys hoe ‘n vroulike keël bestuif word. In hierdie geval is die bopunt van die ryp keël oopgemaak en daarna deurweek met water waarin ryp stuifmeel opgelos is.

Modjadji 3

- een van die mees gesogde en skaars broodbome van Afrika.

Encephalartos munchii kom inheems in Mosambiek voor waar dit teen die noord-oostelike hange van Mount Zembe groei. Die enkele plante wat nog op die berg voorkom, groei op onbereikbare plekke teen loodregte kranse van meer as 200 meter hoog. Hierdie plante is blootgestel aan heersende winde en is daarom nie in ‘n goeie toestand nie.

Gedurende die Rhodesiese oorlog (1973 – 1974) het Rhodesiese soldate broodbome vanaf Mount Zembe gestroop en dit in Suid-Afrika teen R50 to R100 op die straathoeke verkoop. Slegs vier of vyf bome, wat op onbereikbare plekke groei, het hierdie strooptogte oorlewe.

Die boom op die bygaande foto’s is deel van ‘n private versameling in ‘n tuin in Suid-Afrika. Hierdie boom is deur die huidige eienaar aangekoop uit die alombekende versameling van Dr Albert Hertzog.
Encephalartos munchii is op die rand van uitsterwing.

Previous page

Bladsye besigtig: 736316