Archive for the 'Clivias (Boslelies)' Category

Next page

clip_image002

Clivias blom gewoonlik vroeg lente (Augustus). Jy moes voor Augustus reeds bietjie kalium en fosfaatryke kunsmis toegedien het ten einde goeie blomvorming en kleurontwikkeling te verseker. Na blomtyd is clivias pragtige immergroen grondbedekkers – ten einde te verseker dat die blare heeljaar mooi, gesond en glansend is, is die versorging van jou clivias tydens die lente baie belangrik.

Volg die volgende wenke en geniet jou clivias die res van die jaar:

1. Terwyl clivias blom word baie energie uit die blare en wortels ontrek en daarom vertoon die blare dikwels na blom blekerig en minder glansend. Clivias reageer baie goed op bladvoeding en sigbare resultate word dikwels binne ‘n paar dae na toediening van ‘n bladvoeding waargeneem. Spuit daarom net na blom ‘n bladvoeding soos Multifeed op die blare (meng 2 gram Multifeed per liter water en spuit die plant deeglik nat).

2. Waar ‘n kalium en fosfaattoediening vir blomvorming noodsaaklik is, moet blaargroei na blomvorming met ‘n stikstoftoediening aangehelp word. Strooi kort na blomvorming 5 tot 10 gram KAN per vierkante meter. Probeer om die kunsmiskorrels onderdeur die plante te strooi en gebruik ‘n takkie om korrels wat op die blare val af te skud. Gee water dadelik na hierdie toediening.

3. Let op vir slakke en strooi lokaas sodra die eerste slakke hul verskyning maak.

4. Ongeveer een week na die eerste lentereën moet die plante vir leliewurms behandel word. Indien dit nagelaat word kan hierdie wurms later baie skade aanrig. Garden Ripcord werk baie doeltreffend (spuit 1 ml Garden Ripcord per liter water). Maak seker dat die gif tot by die basis van die blare gespuit word. Probeer om ook die onderkant van die blare met die gif te benat.

clip_image004Onthou asb dat gif deur jou vel opgeneem kan word, trek dus handskoene aan en vermy kontak met die vel, was vel met seep en water.

Daar kom baie afwykings van die gewone oranje clivia voor. Die 3 clivias in bygaande fotos blom jaar na jaar in Florcomgardens se tuin. Lesers is welkom om fotos van uitsonderlike clivias vir ons te stuur – ons sal dit graag op die webtuiste publiseer.

clip_image002

1. Let op na die gekartelde blare. Hierdie plante blom elke jaar oorvloedig en al die blomme wys elke jaar hierdie gekartelde kroonblare.

2. Die 12 kroonblare maak van hierdie clivia ‘n kenmerkende blom. Ons het hierdie plant met suiers vermeerder en sal binnekort weet of hulle blomme ook meer as die gewone ses kroonblare sal hê.

clip_image004

3. Hierdie plant se blomme het elke jaar min oranje pigmente. Plante gekweek uit sy suiers het ook slegs spatsels orange. Ons het nou van die suiers in ‘n ander groeimedium oorgeplant en is nuuskierig om uit te vind of die groeimedium iets met die kleur te doen het. Ons is wel bewus dat hierdie clivias in ‘n gedeelte van die tuin groei met ‘n hoër pH as in die res van die tuin. Ons sal binnekort weet of die pH dalk die oorsaak van die kleurafwyking kan wees.

clip_image006

Clivia nobilis
clip_image002[6]Familie :Amaryllidaceae
Gewone naam : Boslelie

Groeibeskrywing:

Hierdie is die eerste clivia wat deur plantkundiges beskryf is. (Die plantkundige J Lindley het in 1828 ‘n plant beskryf wat deur ‘n onderwyser William Burchell naby Grahamstad ontdek is)

Blare is 300 tot 600mm lank met ovaal punte. Blaarbreedte is tussen 25 en 50mm.

Blomme is kenmerkende hangende klokkies. Anders as in die geval van die meer bekende Clivia minuate is blomtyd vanaf laat herfs (Clivia miniata blom gedurende die lente).

Groeitempo is aansienlik stadiger as in die geval van die ander clivia spesies. Vandat saad ontkiem tot die plantjie blom kan tot 6 jaar duur.

Tuinplasing

Clivias moet op beskutte plekke in die skadu geplant word.

Land van oorsprong

clip_image004[6]Vanaf die Sondagsrivier se mond in die Oos Kaap tot in die binneland by Grahamstad.

Al die fotos in hierdie artikel kom vanaf florcomgardens se tuin in Nylstroom (vir meer inligting en uitleg van tuine kan Dr Henning gekontak word by florcom@icon.co.za).

Clivias se blomtyd is in die lente net na die winter wanneer kleur in die tuin baie welkom is. Ongelukkig is die blomperiode slegs ongeveer 3 weke lank, maar dit word opgemaak deur die feit dat clivias tydens die res van die jaar die ideale grondbedekker vir skaduryke gedeeltes van die tuin is.

Aangesien clivias rypgevoelig is en maklik deur die son beskadig word,moet aanplanting op beskutte skaduryke plekke wees. Die beste groei vind in gebroke skadu plaas, maar clivias sal ook in ‘dooie’ skadukolle met geen direkte sonlig groei. Clivias benodig min onderhoud en groei in feitlik enige goed gedreineerde grond.

Beddings teen die huis: Clivias is groot genoeg om die eentonigheid van die mure te breek, maar klein genoeg om nie bo die vensterbanke uit te steek nie. Beddings aan die huis se suidekant word gewoonlik gekenmerk deur dooie skadu met die meeste plante wat nie hier sal aard nie – clivias kan die nodige kleur aan hierdie beddings verleen.

clip_image002

Clivias in houers: Besondere effek kan met clivias in houers verkry word. Ingange na lapas en interessante hoekies in die tuin kan fokuspunte word indien mooi clivias in houers hier aangebring word. Plante is meer beskut wanneer dit in houers aangeplant is, en daarom kan jy veral jou skaarser soorte liewers in potte plant. Hierdie potte kan tydens blomtyd op fokuspunte geplaas, en die res van die seisoen op ‘n veilige en beskutte plek gebêre word.

clip_image002[5]

clip_image004

Plant clivias in plate aan: Gedurende blomtyd is plate clivias altyd ‘n skouspel en tydens die res van die jaar dien dit as ‘n mooi grondbedekker. Let op die besondere uitsig vanuit die lapa in die foto op plate clivias wat langs die lapa groei.

clip_image002[7]

Interessante hoekies in die tuin: Op die bygaande foto vorm clivias saam met ander loofplante ‘n verskeidenheid van blaargroottes, kleure en vorme.

clip_image002[9]

Verbinding tussen verskillende areas in die tuin: Die onderstaande foto is ‘n goeie voorbeeld hoe clivias gebruik kan word om twee areas in die tuin te vebind. Die clivias is laag genoeg om sig na die volgende area toe te laat, maar bied tog ‘n duidelike skeiding tussen die twee areas.

clip_image002[11]

clip_image002[13]

Rangskikkings met cliviablomme: Clivias het nie ‘n uitsondelike lang vaasleeftyd nie, maar ‘n bos clivias in ‘n houer kan in die huis of in die tuin gebruik word om ‘n omgewing op te helder. Die bygaande foto van ‘n bos cliviablomme op ‘n stoeptafeltjie kan as ‘n goeie voorbeeld dien.

cliviasOes nou al die ryp vrugte wat nog aan die plante sit.

Kliek hier vir ons skyfiereeks as jy wil weet hoe clivias deur middel van saad vermeerder kan word.

Net na blomtyd is die plante soms uitgeput en word die blare soms lig van kleur – toediening van ‘ n bladvoeding wat al die spoorelemente bevat help gewoonlik om die blare binne ‘n paar dae weer gesond en groen te laat lyk. Dit sal ook help om ‘n klein hoeveelheid kunsmis wat stikstof en bietjie fosfaat en kalium bevat toe te dien – besproei dadelik na hierdie toediening en maak seker dat die kunsmiskorrels nie op die blare lê nie.

Onthou om na die eerste reën gif vir die beheer van lelieboorder toe te dien. Kliek hier vir meer inligting oor lelieboorders by clivias.

Next page

Bladsye besigtig: 669014