Archive for the 'Clivias (Boslelies)' Category

Previous page

cliviasOes nou al die ryp vrugte wat nog aan die plante sit.

Kliek hier vir ons skyfiereeks as jy wil weet hoe clivias deur middel van saad vermeerder kan word.

Net na blomtyd is die plante soms uitgeput en word die blare soms lig van kleur – toediening van ‘ n bladvoeding wat al die spoorelemente bevat help gewoonlik om die blare binne ‘n paar dae weer gesond en groen te laat lyk. Dit sal ook help om ‘n klein hoeveelheid kunsmis wat stikstof en bietjie fosfaat en kalium bevat toe te dien – besproei dadelik na hierdie toediening en maak seker dat die kunsmiskorrels nie op die blare lê nie.

Onthou om na die eerste reën gif vir die beheer van lelieboorder toe te dien. Kliek hier vir meer inligting oor lelieboorders by clivias.

Clivias is beide onder versamelaars en tuiniers een van Suid-Afrika se gewildste inheemse blomme.

Die genus Clivia behoort aan die familie Amaryllidaceae, en bestaan uit die spesies Clivia caulescens, Clivia gardenii, Clivia miniata en Clivia nobilis. Van al die Clivia spesies kom Clivia miniata die algemeenste voor.

Verskillende variteite van Clivia miniata word aangetref. Clivia miniata var. miniata se blomme is oranje of rooi. Clivia miniata var. citrina se blomme is geel of room van kleur. Verskeie kleurskakerings en kroonblaarvorme is reeds gekweek, waarvan sommige baie skaars met versamelwaarde is.

Clivias benodig gefilterde sonlig en is daarom die ideale plant om in massas in skadu onder bome aan te plant.

Clivias moet in goed gedreineerde grond geplant word, floreer op bladvoeding en moet in die somer gereëld water kry. Aangesien Clivias rypgevoelig is, moet dit op beskutte plekke geplant word.

Gee plante gereëld bladvoeding met ‘n produk wat al die nodige voedingstowwe bevat. Blomvorming word aangehelp indien kalium en fosfaat ongeveer een maand voor blomtyd toegedien word (strooi ongeveer 10 gram korrelkunsmis per vierkante meter en gee dadelik daarna water; gebruik ‘n produk met baie kalium en fosfaat, maar min stikstof). Net na blomtyd kan ongeveer 10 gram per vierkante meter korrelkunsmis met baie stikstof, maar minder kalium, toegedien word.

(Kliek hier indien jy wil weet hoe om die regte kunsmis te kies)

Clivia miniata blom einde Augustus/begin September. Blomme het ses kroonblare. Afwykings met 9 of meer kroonblare is skaars en baie gewild.

clip_image002

Buite die blomseisoen vertoon die plante steeds mooi as ‘n grondbedekker. Die blare is immergroen en glansend. Sade word gewoonlik ryp net voor die volgende blomme gedra word.

clip_image004

Slakke floreer in nat toestande en gedurende die reënseisoen rig hulle soms baie skade aan.

Slakke lê eiers in die bogrond wat net na die eerste goeie somerreën uitbroei.

Die eerste tekens van slakke is gewoonlik ‘n slymerige spoor op tuinpaadjies.

Hulle eet die blare met die gevolg dat die blare vir die res van die seisoen lelik vertoon.

Indien jy slegs ‘n paar clivias het, kan die slakke met die hand verwyder word. In groter tuine is dit egter nodig om lokaas (verkrygbaar by kwekerye) te strooi. Strooi hierdie lokaas tussen die plante en dooie slakke sal binne ‘n dag of twee by die lokaas gesien word. Een of twee toedienings na die eerste somerreën is gewoonlik voldoende.

Clivias - Slakke 1

(Ook bekend as die Amarylus-wurm)

Lelieboorders en slakke is in baie cliviatuine die peste wat die meeste skade aanrig.

Die lelieboorder is ‘n klein helderkleurig wurmpie met swart en geel dwarsbande om die liggaam. Die wurmpies tonnel in die blare in en veroorsaak dooie stroke op die blare. Soms vreet hulle by die blare se oksels waar die skade nie dadelik gesien word nie – in hierdie geval gebeur dit diksels dat behandeling te laat plaasvind. Plante kan doodgaan indien te laat opgetreë word. Baie tuiniers moes al tot hul spyt te laat agtergekom dat die lelieboorder hulle cliviatuin heeltemal verwoes het.

Behandeling: Die eerste wurms verskyn gewoonlik ongeveer twee weke na die eerste somerreën. Dit is daarom raadsaam om net na die eerste sommerreën vir die lelieboorder te spuit. Inspekteer die plante die res van die reënseisoen gereëld en spuit weer sodra skade of wurms gesien word. Gebruik Garden Ripcord teen ‘n konsentrasie van 1 ml per liter water.

Lelieboorder

Op die foto is die lelieboorder en skade wat reeds op blare aangerig is.

Previous page

Bladsye besigtig: 736317