Die kameeldorings (Acacia erioloba) van die Mokolodam.

 

image Die Mokolodam is tussen Ellisras en Vaalwater in die hartjie van die Waterbergbiosfeer geleë. Die dam en omringende berge behoort aan Limpopo Parke en die aangrensende plase is private wildsplase.

Die kampeerplek is ‘n smal strook van ongeveer 1km lank op die oewer van die dam. Die bome op die voorgrond is meestal Vaalbome (Terminalia sericea), terwyl die kameeldorings op die agtergrond skadu vir die kampeerders bied. Hierdie foto is gedurende ‘n langnaweek geneem – ander tye is die kampeerterrein gewoonlik verlate met min kampeerders.

image Kameeldorings het meestal ‘n groot spreiende kroon van tot 20 meter hoog, maar kan ook digte struike word. Hulle groei in diep sanderige grond en dikwels langs droë rivierbeddings. In die Kalahari is kameeldorings ‘n algemene gesig. In die Waterberge kom hulle verspreid in sanderige grond voor.

image Die meeste kampeerplekke onder die kameeldorings van die Mokolodam het besonder mooi uitsigte op die water en berge in die verte. Hierdie foto is reg voor die tent tydens ons laaste besoek aan die dam geneem.

Die ablusieblokke van die kampeerterrein is ongelukkig baie primitief en dit is raadsaam om ‘n draagbare toilet en stort saam te bring.

image Die Mokolodam is ongeveer 16 km lank en die omliggende terrein is meestal klipperige rante. Op sommige plekke, soos by die kampeerterrein, kom egter diep sanderige grond voor. Vleilande met ‘n verskeidenheid voëllewe kom ook voor. Kampeerders word daarop gewys dat krokodille volop is.

Kameeldorings se stamme is diep imagegegroef en die bas is donkerbruin tot swart.

Blare is bladwisselend, grysgroen, afwisselend, dubbelveervormig saamgestel, 2 tot 3 paar pinnaes met 8 – 18 paar pinnulas per pinna.

Blomme is klein en geel en blomtyd is gedurende die somer.

Op bygaande foto staan ek langs ‘n reuse kameeldoring wat in die kampeerterrein groei.

 

imagePeule is plat, gekrom en word deur wild en beeste benut.

 

 

 

Dorings is groot, hard en baie skerp met ‘n opvallende vorm.

By die kampeerterrein is dit nie moontlik om sonder skoene te loop nie. Bring maar ‘n hark saam en vee eers die dorings uit jou kampeerplek. Dorings is egter nie ‘n rede om nie kameeldorings in jou tuin te plant nie – indien jy gereeld die dooie hout uitsaag behoort jy nie ‘n probleem met dorings op die grond te hê nie.

image

image

 

 

 

 

 

image 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Dit is die moeite werd om die Mokolodam se plantegroei te voet te verken. Paadjies is nie uitgemerk nie, maar dit is maklik om jou weg langs die dam te vind. Plantegroei is kenmerkend aan die Waterberg Biosfeer. Daarby sal die wildernisatmosfeer en verskeidenheid voëlsoorte die staptog die moeite werd maak. Indien jy gelukkig is, kan jy ook kleiner wildsoorte raakloop. Op die foto hierby word ek en my seuns omring deur pragtige tonele van berg en water. Aangesien die dam ver verwyder is van bewoonde areas is dit relatief veilig en daarby is die water skoon en onbesoedel. Die meeste besoekers aan die dam is natuurlik vissermanne met motorbote.

Die Mokolodam is geleë in ‘n ongerepte deel van Suid-Afrika, vêr van die stadslawaai, omring deur ‘n verkeidenheid plantspesies en daarby is dit een van ons min damme wat nog nie deur besoedeling geraak is nie. Besoek gerus die dam en geniet die atmosfeer wat die reuse kameeldorings bied. Daar is sprake dat die kampeerterreine van Limpopo se reservate geprivatiseer gaan word. Die gevolg sal sekerlik beter geriewe wees, maar ons hoop dat die rustigheid en ongereptheid nie daardeur in gedrang sal kom nie. Ons het nog nooit voorheen nodig gehad om plek te bespreek nie, maar hulle kan gekontak word by 014 763 5447 of besigtig www.mokolodamresort.co.za.

Kameeldorings laat gefilterde lig deur wat dit ‘n ideale boom vir skadutuine maak. Stel jou voor hoe mooi ‘n groepie kameeldorings op ‘n groot erf sal lyk!