Plant van die week – Gewone klimop (Hedera helix)

Groeibeskrywing:

Immergroen klimplante. Met behulp van sterk bywortels aan die stingels kan hulle aan feitlik enige oppervlak vasklou en vinnig ‘n digte bedekking vorm. Blomme is groenerig en onopvallend. Vruggies is swart, klein en onopvallend.

Mutasies het bygedra tot heelwat kultivars met ‘n groot variasie van hul ornamentele loof.

Gewone klimop

Tuinplasing:

Die klimop is onoortreflik om as ranker oor lelike voorwerpe te groei. Kan ook as grondbedekker gebruik word. Vertoon besonder mooi wanneer toegelaat word om teen boomstamme op te rank.

Gehardheid:

Met enkele uitsonderings is die meeste kultivars bestand teen die laagste temperature. Die meeste soorte kan in volle son, halfskadu of volle skadu groei.

Voeding, grond en besproeiing:

Groei maklik in enige tipe grond. Waar die klimop in volle son groei is voldoende water nodig.

Voortplanting:

Steggies van stewige lote en inlêers vorm maklik wortels. Ranke wat op die grond lê vorm ook wortels.

Land van oorsprong:

Europa, Asië en Noord-Afrika.