Plant van die week – Petunia

Blomme en groeibeskrywing:

image

Gewilde eenjarige plante wat maklik groei. Blomme kom voor in skakerings van rooi, piek, pers, blou, wit en geel. Blomtyd is gewoonlik in die lente en somer, maar dwarsdeur die jaar in warm gebiede. Klein plantjies moet gereëld ‘gepinch’ word ten einde welige groei te verseker.

Tuinplasing:

Plant in volle son. Vertoon mooi as beddingplante. Kan in die grond of in hangmandjies en in blombakke geplant word.

Gehardheid:

Kan in warm gebiede enige tyd van die jaar geplant word. Gedeeltelik rypgevoelig en moet daarom in koue gebiede gedurende die lente aangeplant word.

Voeding en besproeiing:

Petunias verkies goed gedreineerde suur grond en is baie gevoelig vir ‘n tekort aan yster (die gevolg van te min yster is vergeling van die jong blare). Maak seker dat die groeimedium in hangmandjies en blombakke suur is. Gereëlde bladvoeding met ‘n produk wat yster bevat, sal help om die loof mooi groen te hou. Werk voor aanplanting groot hoeveelhede kompos in die grond in. Strooi twee of drie keer per jaar ‘n klein hoeveelheid korrelkunsmis tussen die plantjies.

Voortplanting:

Groei maklik van saad.

Land van oorsprong:

Inheems in Suid-Amerika. In tuine word hibriede, geteel uit die wilde soorte, geplant.