Tuinwenke vir Maart

Grasperke moet nou slegs een keer per week benat word. Gee genoeg water sodat die grond tot op ‘n diepte van 10 tot 30 cm benat word.

Grasperke: Strooi 30 gram 2:3:4 per vierkante meter – besproei dadelik na hierdie toediening.

Pronkertjies kan nou gesaai word.

Saai en plant van die volgende groente: Beet, ertjies, broccoli, geelwortels, kropslaai, spinasie, uie.

Behandel rose vir swartvlek.

Rose: Sny alle stele wat nie blomme dra nie (blinde lote) en ook stele met dooie blomme uit. Die ogies wat by hierdie snyvlakke uitloop sal gedurende Mei blomme vorm.

Saai nou saad van eenjarige blomme wat gedurende die winter blom.

Clivias: Verwyder lelike blare wat deur slakke of wurms beskadig is. Strooi 30 gram 2:3:4 per vierkante meter – besproei dadelik na hierdie toediening.

Plant ‘n struik of boom voor einde Maart. Bome en struike wat nou geplant word se wortels sal voor die winter begin ontwikkel sodat groei gedurende die lente sterk en vinnig sal wees. Hierdie wenk is net van toepassing indien die boom of struik vanuit ‘n houer oorgeplant word – haal die plant baie versigtig uit die houer sodat die groeimedium rondom sy wortels nie uitval nie. Moet nie nou bome of struike met kaal wortels oorplant nie.

Berei nou jou beddings voor vir bolle wat gedurende die lente gaan blom. Dit is belangrik om lentebolle eers te plant wanneer dit koeler word.

Struike wat slordig groei kan nou ‘n ligte snoei kry. Moet egter nie struike snoei wat gedurende die winter blom nie.

Posted in: