Visstert palm

Caryota sp.

Algemene naam: Visstert palm (Fish tail palm)

clip_image002Groeibeskrywing:

Die naam “Visstert palm” is na aanleiding van die vorm van die blare. Die blare is groot met ‘n kenmerkende “visstert” vorm. Blare vertoon liggroen wanneer die palm in die son groei en donker wanneer slegs gebroke sonlig voorkom. Visstert palms blom gewoonlik slegs een keer en sal daarna geleidelik sterf. By die meerstammige soorte, soos op die boonste foto, sal die dooie gedeeltes deur suiers of saailinge vervang word – dooie stamme moet dan uitgesny word.

clip_image004

Verskillende spesies kom voor:

Caryota mites is ‘n kleinererige palm wat ongeveer 3 tot 6 m hoog word. Hou van die son of gedeeltelike skadu en kan ook as ‘n potplant binneshuis gekweek word (die beperkte wortelruimte in die pot sal keer dat die palm nie te hoog word nie). Hierdie spesie vorm suiers. Saad ontkiem maklik waar dit op die grond geval het.

Caryota gigas is die grootste van die visstert palms en kan tot 20 m hoog word. Verkies omgewings met koel nagte. Leeftyd is ongeveer 25 jaar.

Caryota urens se sap word soms gebruik om ‘n alkoholiese drankie te maak. Kan baie hoog word.

Tuinplasing:

Visstert palms is besonder mooi fokusplante. Hou egter in gedagte dat hulle leeftyd beperk is – moet dus nie die groter soorte naby geboue plant waar hulle kan skade aanrig as hulle later omval nie. Hou van son of gedeeltelike skadu. Verkies vogtige grond maar sal ook onder redelik droë omstandighede oorleef.

Gehardheid:

Sommige spesies is gevoelig vir koue.

Voortplanting:

Gebruik saad vir voortplanting. Visstert palms word gewoonlik nie suksesvol oorgeplant nie, die stress wat met oorplanting gepaard gaan veroorsaak dat die plant begin blom – onthou dat plante slegs een keer blom en na blom geleidelik sterf. Saad veroorsaak velirritasies en moet dus versigtig hanyeet word.

clip_image006